
Vrystaat Landbou (VL) se Landelike Veiligheidkomitee het op 11 Julie met die nuwe Vrystaatse LUR van Gemeenskapveiligheid, Paaie en Vervoer, mnr. Jabu Mbalula, en sy direkteure vergader ten einde ’n hand van samewerking uit te reik om landelike veiligheid en misdade in boerderygemeenskappe saam met die SAPD effektief aan te spreek. Vrystaat Landbou wens die LUR geluk en sterkte toe met sy aanstelling.
Dr. Jane Buys, Veiligheid risiko-analis van VL, noem dat VL vyf (5) belangrike kwessies onder die LUR se aandag gebring het wat die organisasie as kritiek beskou om landelike veiligheid en misdade effektiewer aan te spreek.
Die kwessies is:
1. Die effektiewe implementering van die Nasionale Landelike Beveiliging Strategie (NLBS) in die Vrystaat, wat daarop moet fokus dat elke Landelike Veiligheidskoördineerder van die Polisie by 'n “urban/rural mix” polisiestasie 'n toegewysde patrollievoertuig moet hê om sy/haar werksaamhede effektief te verrig. Die kapasiteit, mannekrag en voertuie van die veediefstal-eenhede moet ook daadwerklik aangespreek word;
2. Die deurvoer van twee (2) belangrike konsepwette nl die Nasionale Skutwet wat munisipaliteite verplig om skutte daar te stel om rondloper diere wat verantwoordelik is vir motorongelukke en ook weiding vernietig, te kan skut. Hier moet kwarantynskutte veral teen die RSA/Lesothogrens ook ingebring word om biosekuriteit op diere effektief aan te spreek. Tweedens, moet aandag geskenk word aan die wysigingswet op Veediefstal van 1959 wat bekend staan as die “Controlled Animal Bill” waar beter maatreëls en riglyne in plek gestel word ten einde veespekulante asook die vervoer en verkoop van vee te reguleer;
3. Die daadwerklike daarstel van 'n patroleerbare 4x4 grenspad by die RSA/Lesothogrens waar die Departement van Openbare Werke die aspek in samewerking met die Departement moet uitsorteer sodat alle wetstoepassers nl SANW, SAPD, BMA asook boerderygemeenskappe gesamentlik operasies en aksies van stapel kan stuur om misdade effektief aan te spreek;
4. Die Forums wat alreeds bestaan, nl die “Border Safeguarding Forum” olv die SANW, die “Cross Border Crime Prevention Forum” asook die Polisie se prioriteitskomitee vergaderings op alle vlakke moet effektief kan funksioneer met die nodige aksies en beplanningsoperasies wat daaruit na vore moet kom;
5. Die oudit en herstrukturering van die diere-identifikasiestelsel (AIS) volgens die Animal Identification Act (AIDA) (Wet 6 van 2002), waar die polisie ook toegang tot die stelsel het om te verseker dat persone wat op die stelsel geregistreer is, inderdaad boere is, en dat dit beperk word tot Suid-Afrikaanse burgers.
Pieter Kemp, vise-voorsitter van VL se Landelike Veiligheidkomitee, se^ die LUR was ook ingelig rakende VL se privaat ondersoekers op veediefstal inisiatief en die suksesse wat hul bereik. Die inisiatief, wat onder leiding van Peet Swanepoel as koo¨rdineerder opereer, staan die Polisie se veediefstal-eenhede by in die ondersoek van veediefstal-insidente. VL se AIMS (Animal ID, Movement and Safety) naspeurbaarheid-stelsel waar vee-eienaars hul veekudde met beter tegnologie kan opspoor en vee deur die waardeketting gemonitor kan word, is ook kortliks aan die LUR uitgewys.